Ons uitstappies vandag -
17 Maart 2013
Ons het vanaand na die simfonie orkes in die Edmonton
Stadsteater gaan kyk. Die Edmonton simfonie orkes onder leiding van Bill Eddins
het verkeie stukke gespeel. Ek kan met vrymoedigheid sê
hy was die beste dirigent wat ek ooit gesien het.
In die eerste plek was die teater gebou asemrowend. Die
argitektuur, akoestiek en funksionaliteit is uitstekend.
Die stukke wat gespeel is, is van Berlioz, Respighi, Rossini
en Gerswin. Ek is 'n bekende kritikus van Gerswin en beskou sy musiek meer as
'n geraas as iets anders, maar die 'American in Paris' was baie goed.
Na die konsert is ons na 'n restaurant - die Red Lobster -
want ons het na SA kreef verlang. Toe ons by die teater uitkom, het dit matig
tot swaar gesneeu. Dit was 'n sprokieswêreld en ons kon nie genoeg kry van in die
strate ry nie. Mens kan nie die lyne of bane of selfs die ransteen sien nie,
maar volg slegs die spore van motors wat voor ons daar was.
Toe ons half-twaalf die vanaand nog nie tuis was nie, het
ons dogter agter ons aangebel, want sy dink ons sal verdwaal of die verkeerde
kant van die straat ry, of op die sneeu gly en 'n ongeluk maak. Dis die eerste
keer dat ek oplet dat ons kinders so begaan oor ons is, soos ons twintig jaar
gelede oor hulle was.
Ek en my vrou is dit eens dat dit die lekkerste dag in
Kanada vir ons was.
Vanoggend het ek die motor gaan was. Daar is geboue soos
werkswinkels waarin mens jou motor kan was. Jy gaan staan in 'n afgebakende
parkeerplek afgeskort met plastiese mure. Daar is seepbesems, hoëdruk spuite
met of sonder seep, afdroeërs en nog wat. Mens betaal so een dollar per minuut
en jy moet spoed optel om binne vyftien minute jou motor skoon te hê. Ek mis
nog nie vir Jonas nie, want met die spuite was ek die motor skoner as wat hy
kon.
No comments:
Post a Comment