Pages

Thursday 7 March 2013

Na Kanada - Deel 4 - Maart 2013


Na Kanada - Deel 4 - 6 Maart 2013. 

Ek is vandag 'n maand in Kanada. So dit is tyd vir refleksie.
In die maand het ek al my dokumentasie ens. reggekry behalwe vir 'n paar dinge. Een daarvan is  my bestuurslisensie. Ek het my toets vir leerlinglisensie geskryf en snaaks genoeg deurgekom op die eerste probeerslag, nadat ek die boekie eenmaal noukeurig deurgelees het. 'n Mens mag net vyf foute uit dertig vrae maak en jy skryf op die rekenaar. Toe ek my leerlinglisensie wou uitneem, vra hulle my om my SA bestuurslisensie in te gee, want dit is bedrog om twee lisensies hier te hê. Hulle het nie hier ID boekies soos in SA nie, en die bestuurlisensie is jou ID dokument ook - inteendeel jou enigte ID dokument. Ek weier toe natturlik om my SA lisensie in te gee soos enige goeie SA'ner sal doen, want ek het 'n ekstra swaar vragmotorlisensie in SA. As ek dit ingegee het, dan mag ek vir vier weke (totdat ek my volwaardige lisensie het) nie alleen bestuur nie. Later, na bepeinsing, het ek besluit dat ek dit wel tog mettertyd sal ingee aangesien ek weer een in SA vir so R 200 sal kan koop.


'n Mens se assuransie op jou motor word bepaal deur die aantal jare wat jy 'n Kanadese bestuurslisensie het, en met 'n nuwe lisensie sou ek die maksimum assuransie moes betaal. So, intussen bestuur ek met my internasionale lisensie alleen, maar ook teen 'n baie verhoogde assuransie premie.
Ek het begin om 'n motor te koop, maar dit was moeilik om finansiering te bekom, aangesien ek geen kredietwaardigheid in Kanada het nie. Jou kredietwaardigheid hang af van jou krediet wat jy hier afbetaal het, en nie oor hoeveel 'geleende' geld jy in die bank het nie. Ek het spesiaal op krediet probeer koop om 'n kredietrekord op te bou. Vandag het ek egter gehoor dat ek die motor kan koop met 'n 40% deposito en dat die lening afbetaal moet word oor vyf jaar teen 1,49% rente.
Dit was vandag -6C en ek het probeer kyk hoe koud dit is. Ek het gemaklik tussen winkels en my motor in die buitelug rondgeloop met slegs 'n hemp aan, maar ek gee toe dat dit baie koel was en dat ek hitte nie kan vat nie. Ander mense het baadjies of jasse aangehad.
Ek het belowe dat ek sal laat weet wat negatief van die land is. Ek het nog niks negatiefs agtergekom nie en sal later laat weet. In die proses van dink wat verkeerd hier is, het my gedagtes onbewustelik gedwaal na wat in SA verkeerd is. Die lysie in my gedagtes het te lank geword en ek het gedink dit sal makliker wees as ek aan iets kan dink wat positief in SA is (behalwe sekere mense se HIV status), en ek was ook nie daartoe in staat nie. Hier is SA baie in die nuus - van Oscar wat vrouens in toilette doodskiet, polisie wat 'n Mosambieker agter die vangwa op die straat rondsleep, donkievleis in die beesvleis en 900 mense wat in aanhouding dood is - alles eg Suid Afrikaans. Wat my egter die meeste opval van die stukkie nuus van die Mosambieker is nie of hulle hom rondgesleep het op straat nie - dis normale polisie brutaliteit, maar wat vir my baie snaaks was, is dat hulle 'n polisiemotor gehad het wat in werkende toestand was en waarmee hulle dit kon doen. Die kere dat ek die polisie in SA gebel het oor misdaad, het hulle altyd gesê hulle het nie 'n werkende polisiemotor nie.
Ek het vandag weer inkopies gaan doen vir kruideniersware, elektriese ware ens., en ek was verbaas dat al die dinge hier omtrent dieselfe prys as in SA is. Ek het ook gekyk na 'n Smart TV van 60 duim. In SA het ek verlede jaar een gekoop vir R 20 000 en hier kos dieselfde een R 9000. Brandstof (Petrol) kos hier R9,20 per liter.
Die mense is nogal vriendelik en ek merk op almal groet jou en soek 'n geselsie as jy bv. by die 'lift' wag op die hysbak. Hulle noem dit hier 'n 'elevator' omdat 'n 'lift' iets is wat jy vir iemand gee wat langs die pad staan. Die naam Toilet word hier as barbaars beskou en mens verwys na sulke plekke as 'washrooms'. Hulle het ook nie 'serviettes' nie en gebruik 'napkins'.
Ek het al heelwat plekke genader om werk te kry. Almal vra my of ek hier bly en of ek 'n permanente verblyf permit het, voordat hulle met my praat. Dit sal baie moeilik wees om werk vanuit SA te kry. Die beste is om op die Kanadese Immigrasie webtuiste ('link' soos in deel 1) die vorm af te laai en aansoek te doen. Mens het nie werk nodig om dit te doen nie en dit neem so een jaar vir die aansoek om goedgekeur te word.
Ek het verneem dat blanke SA'ners nou onder 'genocide' kan kwalifiseer om asiel in baie lande te kry, maar ek het nog nie die verwysing gesien of nagegaan nie. Elders op my artikels sal julle sien dat daar meer blanke SA'ners vermoor word as in baie oorloë. Ek dink dis tans 68 000 sedert 1994.
Wat my nogal verbaas het nadat ek hier aangekom het, is hoe ek en ander SA'ners ons misdaad ens. so gelate aanvaar. Dit het my toe laat dink aan Van Der Merwe en Murphy van Ierland wat hulle lande so opgestoot het. Van der Merwe het Murphy laat verstaan dat die misdaad in SA baie oordryf word. Jy weet mos, sê hy aan Murphy, hoe die koerante alles oordryf. Ja, antwoord Murphy, ek weet baie goed, want by ons oordryf hulle ook sulke dinge baie. So 'by the way', sê Van, watse werk doen jy in Ierland. Murphy antwoord: Ek is 'n 'rear gunner' op die broodlorrie!
Tot volgende keer.

 

 

1 comment:

  1. Ag dit klink alles so ongeloofik lekker! Dis een groot ontdekkingsreis oop die ander... Ek sou nie omgee om vir my toekoms iewers te bly waar jy nie die heeltyd moet wonder of jy veiig is en of iemand jou agtervolg nie... Om nie elke aand elke liewe venster te moet toegrendel en te versmoor in jou eie uitlaatgasse nie! Die 'fan' en 'aircon' moet maar die ding doen. Geniet julle 'vry' lewe daar en dink maar aan ons hier in die tronk... Groetnis Hannetjie

    ReplyDelete