Pages

Monday 7 January 2013

Ons emigreer na Kanada - Deel 1


Ons emigreer na Kanada - Deel 1 - Voorbereiding.
deur P.K.Odendaal - 1 Januarie 2013.
 
Dit is algemene kennis dat Suid Afrika teruggaan na waar die kolonialiserende lande hom gekry het so drie honderd jaar gelede. Hy sal egter nie heeltemal teruggly nie, aangesien sekere 'verbeterings' permanent of blywend sal wees. Hoever hy sal teruggly 'is anybody's guess'. Wat egter meer saakmaak is: waar is my drumpel van 'gatvolheid' hiermee? Hoeveel van die 'oorblywende verbeterings' is essensieël vir my om 'n redelike vlak van lewenskwaliteit te geniet. My drumpel het so drie jaar gelede alreeds aangebreek.

Ek dink aan die grap van die godsdienstige boer wat sy ateis buurman besoek het. Toe die laasgenoemde boer so spog met hoe mooi hy sy plaas verbeter het, sê die godsdienstige boer dat hy moet dankbaar wees dat die Here hom so mooi gehelp het, waarop die ateis boer antwoord: Jy weet nie in watter toestand die plaas was toe die Here alleen hier geboer het nie. So ek neem aan die huidige Suid Afrika is nog ('n bietjie) beter as in 1952. Wat 'n verligting.
Vir baie van u sal emigrasie of 'gatvolheid' nooit aanbreek nie, maar hierdie artikels word geskryf om diegene te help wat naby hul vlak van 'gatvolheid' is. U kan my artikels volg oor die volgende maande, om meer inligting te kry om te besluit wanneer u gereed is vir so stap. Ek sal probeer om dit prakties en inssiggewend te hou, en om aan te dui hoe maklik en goedkoop dit is om te emigreer. Ek sal noodwendig meer geld spandeer as wat nodig is, omdat ek bietjie ekstra spaargeld het, maar neem hieruit wat u sak pas.
Ek vra iemand eergister hoeveel geld hy dink ek gaan saamneem. Hy sê toe hy dink so R 5 miljoen! Ek het nog nooit meer as R 100 000 in die bank of spaarbank gehad nie, en ek antwoord toe dat ek net R 50 000 saamneem. Dis wat ek saamneem vir my oorlewing daar, as 'n minimum, maar u hoef nie eers soveel beskikbaar te hê nie, alhoewel meeste mense dit darem sal hê uit 'n polis, aftreefonds of dit kan leen of steel - een van ons nuutgevonde deugde. Ekskuus - ek probeer nie spitsvondig wees nie - ek het net geleer dat die nuwe realiteit van Suid Afrika alles insluit (anything goes). 'n Mens gaan R 13 000 betaal vir 'n retoervliegkaartjie na Kanada en maandelikse verblyf sal ongeveer R 20 000 wees. Ek en my vrou gaan by my dogter Nicola en haar man, De Jager vir die eerste paar maande woon, wat gelukkig verniet sal wees. So vir my is R 50 000 oorgenoeg.
Ek het dit vir onsself geoorloof om besigheidsklas vliegkaartjies te koop teen R 50 000 per kaartjie, want op 66 jarige ouderdom is my vrou se knieë en rug nie meer gelukkig met 'n ekonomiese klas sitplek nie - en ek neem graag 'advantage' van haar toestand, deur ook besigheidsklas te vlieg. Ons besigheid betaal darem ook die grootste gedeelte hiervan, aangesien dit 'n besigheidsekspedisie is. Ons wil ons besigheid in Suid Afrika oor die volgende vyf jaar oorplaas na Kanada. Ek sal natuurlik nog altyd vir ons besigheid hier ter plaatse werk doen, aangesien ek omtrent al my tegniese- en ingenieurswerk oor die internet kan doen. Vir die van u wat dit ook wil doen - Remote Desktop, Hamachi en Teamviewer is wonderlike programme. Ek sal ook seker nog 'n verminderde salaris kan trek, wat natuurlik maklik oorsee gestuur kan word onder Suid Afrika se huidige buitelandse valuta reëls. Elke persoon kan R 10m per jaar uitneem na die buiteland, wat seker genoeg vir die meeste van ons sal wees. Dis darem een opsig waarin die nuwe regering die ou (wit) regering dekades vooruit is. Toe ek in 1993 'n bedrag van R 10 000 wou uitneem buitleland toe om 'n tweedehandse motor te koop om daar mee te toer, was ek ten strengste verbied, en het amper 'n gelyste kommunis geword oor my navraag. Daar was sprake dat ek die land hierdeur bankrot sou maak.
Ons kan moontlik ons huis verhuur, as dit nie betyds verkoop word nie, en die huur sal oorgenoeg wees om ons te laat oorleef. Party van my vriende het selfs ekstra huise wat hulle verhuur wat ook baie sal help. Ek het nie so iets nie.
As u, soos ek, ver vooruitleef, beplan en bestee - so twintig jaar vooruit (wel amper) - dan sou u alreeds begin het om u kwalifikasies in Kanada te laat takseer (ek weet nie of hulle meer ons graad 1 erken nie), en om selfs 'n maatskappy te stig, waarmee u kan besigheid doen sodra u daar aankom. My ingenieurskwalifikasies moes eers deur 'Engineers Canada' getakseer word (dis so twee jaar gelede voltooi), en nou is ek nog besig om my professionele ingenieursregistrasie na te jaag, wat sekere nog 'n jaar sal neem (ek is alreeds twee jaar daarmee besig). Ek het ook ons nuwe maatskappy sowat vier jaar gelede daar geregistreer.
Suid Afrikaners is baie welkom in eerstewêreld lande, omdat ons opleiding in die ou Suid Afrika baie goed was, en omdat almal weet ons is werks-esels, en meeste van ons is ook goeie entrepeneurs - selfs Malema is ook een, al is dit nou net 'n tenderpreneur, 'n aktiwiteit wat ek nie dink baie gewild oorsee sal wees nie. Kanada soek naarstigtelik na 'skills' vanaf vragmotorbestuurder na dokters na ingenieurs na diesel werktuigkundiges na myners ... ens. - so enigeen kan aansoek doen.
Ons het die langpad van 'parent and grand-parent sponsorship' geneem, wat vyf jaar geduur het, maar daar is baie makliker en gouer roetes. U kan alles lees op hierdie webtuiste :
Moenie 'n agent gebruik nie - daar is baie 'scams' aan die gang. Die beste ondervinding wat ek van weet, is deur 'n vriend van ons, wat net die permanente verblyfpermitvorm op bogenoemde webtuiste afgetrek en ingevul het, en 'n jaar later sy permanente verblyf permit gekry het, sonder dat hy werk gehad het. Daar is ook werkpermitte beskikbaar. Maatskappye daar neem nie graag mense in ander lande sommer in diens nie, omdat dit te veel moeite is met die trek reëlings en papierwerk - so gaan soek self fisies werk in Kanada - neem 'n maand vakansie.
Baie mense is sentimenteel oor Suid afrika - ek was ook, maar ons het die land in 1994 weggegee aan die swart mense - watter gedeelte daarvan verstaan ons nog nie? Ek neem niemand kwalik oor die huidige toestand van die land nie, want dit is nie deur een persoon of een groep veroorsaak nie - dit het drie hondered jaar se harde werk (bak en brou) deur die Britte, Afrikaners, Xhosas en Zoeloes gekos. Ek het byvoorbeeld in 1974 na die eerstewêreld stad Witbank getrek. Sonder my eie toedoen woon ek nou in die derde wêreld 'township' met die naam van Emalahleni. Die meerderheid mense van die ou 'township' KwaGuqa, 'like' dit nog steeds hier.
Waar in Kanada gaan ek bly? Edmonton in die provinsie Alberta.
Ek het op vier bykans jaarlikse vliegtoere met 'n klein vliegtuigie gegaan, en sowat 15 000km op elk gedoen - driemaal tot in die noordpoolstreek. Ek ken Kanada baie goed en het omtrent alles gesien - meer as 99% van Kanadese. Waar is die mooiste plekke? Oral. Ek het nog nie 'n plek in Kanada gesien wat nie asemrowend mooi is nie. Amper die hele land is in die winter onder sneeu, met uitsondering van Vancouver en Vancouver Eiland, waar die klimaat baie soos in Suid Afrika is. Die ooste is nie so koud nie, maar het natterige winters waarvan ek nie hou nie. Die weste is kouer met droë winters (en son), waarvan ek baie hou. Dit sneeu ook nie elke dag nie, en kan gedurende die winter vir weke nie sneeu nie. Ek hou daarvan om sneeu te skraap. Ek mis net my twee-daaglikse 'gym' - en die sneeu oefen al my spiere - nie so beperkend soos die 'gym' masjiene nie. Ek het ook op vier en vyftig jarige leeftyd geleer om te ski en geniet dit ontsettend - en na twaalf jaar ski ek nog steeds met 'n spoed.
Ek skryf net oor Kanada, wat ek die beste ken, maar meeste hiervan is ook van toepassing op die VSA, behalwe dat die VSA tans in 'n ekonomiese en finansiële krisis is, a.g.v. hulle gulsigheid. Daar gaan 90% van die netto inkomste na 1% van die bevolking - en hulle is net so demokraties so SA, waar die regering demokraties gekies word en outokraties regeer.
Ek het alreeds 28 van die VSA se 50 state besoek en deurgetoer. Veral Michigan en Minnesota is asemrowend mooi. Dit is makliker om in die VSA in te kom as in Kanada, en Obama het belowe hy gaan die VSA se immigrasiewette volgende jaar drasties vergemaklik. As daar nou een land is 'where anything goes' - is dit die VSA, so ons sal gou daaraan gewoond kan raak.
Tot volgende keer.

No comments:

Post a Comment