Pages

Sunday 24 March 2013

Motors, parkering en verkeer


Motors, parkering en verkeer - deur P.K.Odendaal - 24 Maart 2013.

Vir die meeste van ons mans is dit die hoofitems in ons lewe. Ons wil almal wiele hê en wegkom van die vrou en kinders. So ek skryf oor alles saam.
Dit het begin toe ek my eerste nuwe motor in sewe jaar gekoop het. Dit is 'n GMC Acadia SLT2. Die SLT2 meen dit is die heel luukse een met alles wat oop en toe maak. Dit het my ongeveer R 520 000 gekos.
Vir hierdie deel van Kanada is dit noodsaaklik om 'n motor te ry wat in ys en sneeu tuis is, en hierdie een is voorwaar, behalwe dat dit nie met winterbande uitgekom het nie. Ek moes nuwe winterbande laat opsit teen R 2000 elk. Goedkoper as my gewone Prado bande in SA. In SA het ek 'n Prado en BMW 750 gehad.





Die GMC se padhouvermoë in gladde omstandighede, met die winterbande, is ongelooflik. Hy het vyf aparte sisteme wat padhouvermoë verbeter en dit is :
1.        StabiliTrak - As mens ry en die motor begin gly, slaan hy self rem aan op een wiel - die wiel wat hom weer reguit sal laat trek.
2.        'Traction Control' - As een of meer wiele begin gly, skakel hy dadelik die krag oor op die wiele wat nog 'traction' het.
3.        Hy het permanente All Wheel Drive en besluit self watter krag op watter wiele te sit vir die omstandighede.
4.        'Four wheel anti-lock brakes'. Ons almal ken ABS op twee wieleee wiele in SA.
5.        'Panic Brake Assist. As jy die versneller skielik los, berei hy dadelik die remme voor vir die kortste stopafstand vir die omstandighede.
6.        Winterbande - self opgesit. 

Wat die winterbande opsit betref. Toe dit opgesit is, is dit met 'n 'torque wrench' vasgedraai en op die rekenaar aangetoon dat dit gedoen is. Na veertig  kilometer moes ek terugkom om dit weer met 'n 'torque wrench' te toets en dit word weer op die werkswinkel rekenaar aangedui.

Om finansiering te bekom as mens nuut hier is, is nie maklik nie. Hulle werk hier streng volgens jou kredietrekord, en as jy nie een het nie, kry jy nie krediet nie. Ek moes sowat 40% deposito neersit en het die res gekry teen 0,99% rente oor vyf jaar.
Nou moes ek 'n Kanadese lisensie kry. Ek het die leerling lisensietoets geskryf en die eerste maal deurgekom. Dit word op 'n rekenaar gedoen en mens moet dertig uit vyf en dertig vra reg hê. Jy kan egter elke dag gaan skryf as jy nie deurkom nie. Toe ek die leerlinglisensie wou betaal, toe word ek verplig om my SA lisensie in te handig, met die gevolg dat ek nie alleen kan bestuur totdat ek drie weke later my lisensie kan kry nie. Ek het botweg geweier soos dit 'n goeie SA betaam - so ek bestuur nog met my SA lisensie (Kode 14) saam met 'n Internasionale lisensie.
Die volgende probleem is die assuransie. Elke motor op die pad moet verseker wees en jy moet jou lisensie en versekeringsdokumente elke rit in jou motor byderhand hê. As 'n ongeluk gebeur, gaan beide bestuurders saam na die naaste polisie stasie, lê verkalrings af, en die polisie doen self ook twee dokumente - die een met al die details van die ongeluk en die ander een word op jou voorruit geplak sodat die paneelklopper ('bodyshop' - nie 'n gym) weet wie is die assuransie maatskappy en saaknommers.
Met 'n nuwe Kanadese lisensie het jy geen ongeluksrekord nie en betaal jy driemaal die gewone tarief. Jy kan egter by SA lisensieowerhede 'n dokument kry ter stawing daarvan dat jy alreeds meer as ses jaar 'n lisensie het, en dan kry jy dit heelwat goedkoper.
Registrasie van die voertuig is baie maklik. In die stad is daar seker 'n honderd Registrasiekantore. Die Garage waar ek die motor gekoop het, het een op die perseel gehad, en dit het my tien minute geneem om die voertuig te registreer. Die Rregistrasie het ook vooraf gedrukte nommerplate in voorraad en die verkoopsman het drie minute geneem om die nommerplate (slegs agter) in vooraf geboorde gate in te draai. Op die nommerplaat plak die Registrasie die verstryking van die lisensie tydperk en geen ruit 'stickers' word gebruik nie. Jy hou ook jou nommerplaat as jy 'n ander motor koop. Alles baie vreemd vir 'n SA, maar dit werk uitstekend goed.
Nou moet ons parkeer. Alle groot winkelsentrums en medium winkels moet parkeing vir getremdes so na as moontlik aan die ingangsdeur hê. Groot sentrums kan tot soveel as twaalf sulke parkeerplekke hê. As jy gestrem is, gaan jy na jou dokter wat 'n brief ten dien effekte uitreik, en daan gaan koop jy'n blou plastiese hanger vir jou voorste spieël vir R60 vir vyf jaar en dan kan jy daar parkeer.
Nou moet ek die motor gaan was. Die smeltende sneeu op die paaie maak jou motor gou vuil en ek moet elke week was. Dit word in 'n tipe workshop gewas deur jouself - ek heg fotos aan. Dit kos $1 per minuut en dit neem jou so vyftien minute om die motor mooi skoon te was. Droging en politoer is ook beskikbaar, maar dan loop die tyd na so vyf en twintig minute.
Uiteindelik kom ons by die verkeer uit. Al die paaie het duidelike spoedbeperkingsborde en hier is baie radar polisiemotors wat jou wil vang. Almal ry dus baie naby aan die speodbeperking en dit laat die verkeer baie goed vloei. Die verkeersborde by interseksies en strate is baie goed, maar jou oë moet mooi oop wees totdat jy al die draaie en swaaie ken. Ek was nog nie in een verkeersknoop of opeenhoping nie en ek bestuur baie in die stad. Dit kan egter gebeur want hulle werk baie aan die strate in die somer, omdat die sneeuskrapers die paaie in die winter beskadig. Waar mesne aan die paaie werk is spoedboetes dubbel die gewone tarief. Hulle het nie 'specials', soos ons in SA gewoond is, nie.
Die spoedbeperking op snelweë is 100 tot 110 km/uur, maar ek sien die mense ry ook soos in SA so 10 km /uur bo hierdie spoedgrens. Die polisie (hulle het nie 'speedcops' nie), wag geduldig agter elke bos en gebou om jou te vang - oral oor die wêreld is dit dieselfde.
Ek vind dit baie aangenaam om die verkeer aan te durf - selfs al sneeu dit swaar. Die verkeer in Edmonton vloei baie goed en dit neem ongeveer twintig minute om van een kant van die stad na die ander te ry. 

In Vancouver is dit 'n ander saak. Hulle het nie 'n verkeersisteem daar nie en die rigtinglose doellose verkeersopeenhopings het geen rede behalwe swak beplanning nie. Dit het my amper twee ure geneem om vanaf die Ferry op die snelweg na die ooste te kom.

Een ding van die bestuurders hier wat ek nie van hou nie, is dat hulle net so onbedagsaam, ongeduldig en selfs ongeskik as SA se bestuurders (en ek) is. Sommige van hulle is selfs roekeloos. Baie mense hier ry die GROOT bakkies (4x4s) waarmee mens treine kan wegsleep. Ek sien mens moet die voertuie afskakel om dit vol brandstof te maak - 'n goeie reëling anders sou sommige van daardie bakkies nooit volgekom het nie.

No comments:

Post a Comment