Pages

Thursday 14 February 2013

Na Kanada - Deel 3


Na Kanada - Deel 3 - deur P.K.Odendaal - 14 Februarie 2013. 
Die groot tog is op 'n end en die goedere sal stuk stuk hier aankom. Ons het darem in een stuk hier aangekom - met British Airways vanaf Johannesburg na Londen Heathrow, en Air Canada na Edmonton. BA se diens en kos was baie swak soos gewoonlik, en Air Canada s'n was baie goed soos gewoonlik - die beste kos en diens wat ons ooit op enige lugredery ontvang het.
Ons eerste vervoermaatskappy, Movit van Midrand, het toe liederlik misluk in hul poging om ons huisgoedere en meubels te vervoer. Hulle het in die proses baie bokse verloor, maar na baie gespook het ons uiteindelik al die bokse in hulle 'warehouse' opgespoor. Hulle 'warehouse manager' het nie 'n 'clue' wat aangaan nie. Hulle was eers arrogant oor ons klagte, maar het later mooi verskjoning gevra, toe hulle sien wat aangaan in hulle besigheid.

Dus het ons Stuttaford gebruik om ons trek te doen. Die koste van 'n 12m houer (container) met versekering is ongeveer R 200 000 na waar ons woon in die weste van Kanada. Hulle is baie goed en professioneel. 'n 6m Houer sonder assuransie sal waarkynlik so R 100 000 kos.
Een van my vliegtuie word vandag verskeep na Kalifornië. Die uitmekaar maak, skeepsvrag en aanmekaarsit in die VSA kos ongeveer R 130 000. Nie baie mense sal dit seker gebruik nie.
Ons eerste week in Kanada was baie lekker, en die weer was baie mooi, met temperature wat tussen +4C en -15C beweeg het. Eergister was die dagtemperatuur +3 en ek het met 'n hemp tussen winkels geloop soos in 'n baie koel dag. Gister was hier wind en temperatuur van -6C, en ons moes maar ons baadjies aantrek, maar oormusse en handskoene was nie nodig nie. Baie koue pla my nie soveel as baie hitte nie, en die laaste twee weke voor ons vertrek uit SA was ondraaglik warm. Vandag is dit -3C en die son het nog elke dag heeldag geskyn vandat ons hier is.
Om geld oor te plaas is nie moeilik nie, en ons eerste bedrag geld wat oorgeplaas is, het op die tweede dag hier aangekom. Individue kan R10m per jaar vanaf SA oorplaas na die buiteland. Ek is nie in daardie liga nie.
Die bevolkingsverspreiding soos ek in die winkels en motors opmerk is so 85% blankes, 14% asiërs of gekleurde nasies, en minder as 1% swart mense. Oral waar ek dienste benodig soos in winkels, motorlisensies, assuransie of medies is die diens flink en almal ken hulle werk. Dit is baie formeel en effektief. Die mense is oor die algmeen baie bedagsaam, maar jy kry ook hier mense wat werk omdat hulle moet, en jy sien dit op hulle gesigte.
Ek het 'n motor SUV / 4x4 gekoop. Ek het, soos dit 'n SA'ner betaam, die duurste in die reeks gekoop. Om skuld te maak is 'n SA'ner se voorland - en wat is beter as om dit teen 0.49% oor vier jaar, 1.49% oor vyf jaar of 2.49% oor ses jaar, te maak. Dit is 'n GMC Acadia SUV, met alles wat oop en toemaak. Die voertuig is net so groot soos my Prado was, en kos R 540 000. Dit het bv. 'On Star' waarmee ek die voertuig vanaf enige plek in die wêreld kan oop- of toesluit, aan- of afskakel, kyk waar hy is, of General Motors vra om van hulle fabriek af diagnostiese toetse te doen as hy nie wil aanskakel of ry nie. Die BTW of 'Sales Tax' hier is 5% en ek kan daarmee saamleef.
Volgens die tabelle wat ek gekry het, sal ek ongeveer 14% maatskappybelasting betaal en nie 30% soos in SA nie. Dit verskil afhangende van die maatskappy details.

No comments:

Post a Comment